Protearif

Welkom by Laerskool Protearif

Waar elke kind blom!

By Laerskool Protearif streef ons daarna om ʼn veilige, stimulerende en gebalanseerde leeromgewing te skep waar elke leerder sy/haar volle potensiaal kan bereik. Ons is trots op ons sterk akademiese grondslag, ons waarde-gedrewe kultuur en die geleenthede wat ons bied vir sport, kultuur en tegnologie.

Ons glo in samewerking met ouers, personeel en die gemeenskap, om leerders vir die toekoms toe te rus, met selfvertroue, kreatiwiteit en karakter.

Meer oor ons

"Waar kinders nog kínd kan wees..."

Ons is geleë in die hart van die Wieg van die Mensdom, omring deur ‘n rustige landelike atmosfeer, wat leer en ontdekking aanmoedig. Hier glo ons dat kinders die ruimte en vryheid moet hê om te speel, groei en leer, in ‘n veilige en koesterende omgewing.

Ons bied onderrig aan, vanaf Kleuterskool en Graad R tot Graad 7. Die skool is slegs 10 km, of 5 minute van die N14-hoofweg af – perfek vir gesinne wat ʼn balans tussen toeganklikheid en ‘n rustige leeromgewing soek.

Wat maak ons uniek?

Laerskool Protearif bied aan ons leerders:

Voorwoord

#Proties is Lekker

Welkom by 2026 — ’n nuwe jaar vol geleenthede, groei en groot beloftes van betekenisvolle oomblikke, hier by Laerskool Protearif.

Soos elke nuwe jaar, bring 2026 sy eie opgewondenheid én uitdagings. Ons leef in ’n wêreld wat vinnig verander, waar aanpasbaarheid, karakter en menswaardigheid belangriker is, as ooit. Juis daarom bly Protearif se fokus duidelik: om nie net kinders toe te rus met oorlewingsvaardighede vir die nóú en vir vandág nie, maar met lewensvaardighede, om hulle voor te berei vir die lewe.

Die gees van “ubuntu” … dat geen mens ’n eiland is nie…ons het mekaar nodig — vorm steeds die kern van ons skoolkultuur. By Protearif glo ons dat elke kind groei binne ’n gemeenskap waar hulle gesien, ondersteun en waardeer word. Wat ons doen, raak mekaar se harte en deur omgee, samewerking en vrygewigheid, bou ons saam aan iets groter as onsself.

Ons 2025-tema, “Wees gerat!”, het ons kinders geleer om voorbereid, veerkragtig en ontvanklik te wees, vir nuwe uitdagings. Dit het nie nét oor akademiese prestasie gegaan nie, maar oor ’n positiewe ingesteldheid, karakterbou en die bemeesterring van kosbare lewensvaardighede. Hiérdie fondasie neem ons nou met ons saam, die 2026-jaar binne.

Vir 2026 vier ons met trots ons nuwe tema:

“PROTIES IS LEKKER”

En dit ís waar.
Proties is lekker omdat dit ’n plek is waar kinders aan iets baie spesiaal, behoort.
’n Plek is, waar om iets te léér, betekenisvol is.
Waar geleenthede, volop is.
Waar verskille gerespekteer word.
En waar omgee, nie net gesê word nie, maar daagliks geleef word.

Ons glo dat ware sukses nie net gemeet word aan prestasie nie, maar aan die ontwikkeling van potensiaal. Elke Protie dra iets unieks binne-in hom- of haarself — en ons verbintenis blý, om elke kind te help ontdek wié hulle is, wát hulle kan word en waarom húlle, saakmaak.

Mag 2026 ’n jaar wees van vreugde, groei, deursettingsvermoë en lekker saamwees.
Mag elke kind veilig voel om te leer, te probeer, te droom en te groei.
En mag ons as skoolgemeenskap aanhou bou aan ’n plek,ons skool, waar dit wérklik lekker is om te wees.

Soos ons graag sê:
Proties maak die léwe — én skoolgaan — lekker!

Welkom by 2026!
Welkom by Protearif!
Voel dit, word deel van die 2026-ervaring… die “lekker”, is nét hier!

Donna Lourens
Hoof

Visie

Uitnemende onderwys, deur passievol binne ‘n landelike atmosfeer die deur na ‘n blink toekoms saam met elke kind te ontsluit.

Missie

Ontwikkeling van elke kind se unieke talente.
Ontwikkeling van leerders se intellektuele, fisiese, sosiale en emosionele vaardighede, op hul reis na volwassenheid.
Passievolle en toegewyde personeel.
Effektiewe kommunikasie.
Konsekwente toepassing van beleide.

Waardes

Liefde, respek, lojaliteit, integriteit, passie.

Leiers 2025

Scroll to Top