Protearif

Sport

Sportsoorte

Atletiek

Atletiek vorm die kern van fisieke ontwikkeling by Laerskool Protearif. Leerders kry die geleentheid om hul vaardighede in verskeie items soos naellope, velditems en aflos te ontwikkel. Die klem val op deelname, selfverbetering en sportmanskap – elke leerder kry die kans om te blom waar sy/haar geplant is.

Rugby

Rugby by Protearif, is méér as net ‘n sport – dis ‘n broederskap. Ons afrigters fokus op tegniek, dissipline en spanbou, terwyl ons spelers met trots ons skoolkleure dra. Of jy nou ‘n sterspeler of beginner is, elke seun is deel van die span.

Tau-Rugby

Tau-Rugby bied aan ons jong spelers ’n veilige en prettige manier om die basiese beginsels van rugby aan te leer. Hier lê die fokus op beweging, balvaardigheid en spanwerk – perfek vir vroeë blootstelling en ontwikkeling.

Netbal

Ons netbalspanne is ‘n trotse simbool van samewerking en deursettingsvermoë. Met afrigting van hoë gehalte, kry die dogters die kans om hul vaardighede te slyp, strategieë aan te leer en met selfvertroue aan wedstryde deel te neem – terwyl deelname altyd aangemoedig word.

Mini-Netbal

Mini-Netbal bring glimlagte en vaardighede saam! Spelenderwys leer ons jong speelsters balhantering, posisionering en die basiese reëls. Hier begin die liefde vir die spel – en elke dogter kry ’n kans om te speel.

Hokkie

Met goed-opgeleide afrigters en entoesiastiese spanne, bied hokkie, by Protearif, leerders ‘n geleentheid om taktiek, spoed en spanwerk te bemeester. Ons speel op gras en op Astro (by geleentheid) en fokus op deelname én prestasie.

Mini-Hokkie

Ons mini-hokkiespelers is klein, maar vol gees! Deur speletjies en prettige oefeninge bou ons balvaardigheid, koördinasie en liefde vir die sport – ‘n perfekte inleiding vir ons jong leerlinge.

Krieket

Krieket leer kinders geduld, fokus en spanverantwoordelikheid. Ons afrigting is doelgerig, maar inklusief – of jy nou kolwer, bouler of veldwerker is, daar is plek vir jou in die span.

Mini-Krieket

Mini-Krieket is die begin van iets besonders. Met sagte balle en eenvoudige reëls, word die basiese beginsels van kolf en boul in ’n prettige omgewing aangeleer. Elke kind kry ‘n kans om betrokke te wees.

Landloop

Landloop bring uithouvermoë en karakterontwikkeling na vore. Ons leerders hardloop in verskillende ouderdomsgroepe en leer om hul eie grense te toets – alles binne ’n ondersteunende en aanmoedigende omgewing.

Tennis & Rooibal Tennis

Tennis, sowerl as Rooibal Tennis by Protearif ontwikkel reflekse, fokus en taktiese denke. Met spesiale aandag aan beginners, sowel as gevorderde spelers, gee ons aan elke leerder die kans om die sport te geniet en te verbeter.

Skaak

Skaak daag die verstand uit en bou probleemoplossingsvaardighede. Ons skaak verwelkom almal – van nuwelinge tot kompeterende denkers – híér leer kinders hoe om strategies te dink, kalm te bly en respekvol te speel.

Fietsry

Fietsry, ‘n sport in sy beginstadium, waar leerders tegnieke en vaardighede aanleer asook basiese beginsels van dié sportsoort.

Buitemuurse Aktiwiteite

By ons skool word leerders aangemoedig om aan ’n wye verskeidenheid buiteskoolse sport- en ander aktiwiteite deel te neem. Baie leerders neem op hul eie deel aan individuele sportsoorte soos akrobatiek, gimnastiek, trampolien, perdry, uithourit-perdry en meer. Hul toewyding en prestasies word erken deur middel van ’n kredietstelsel wat hul betrokkenheid, vaardigheidsontwikkeling en persoonlike groei beloon. Só help ons om selfversekerde, goed afgeronde individue, met uiteenlopende talente te ontwikkel.

Galery

Scroll to Top