Kultuur
Kultuuraktiwiteite
By Laerskool Protearif glo ons dat kultuuraktiwiteite ’n onmisbare rol speel in die ontwikkeling van selfvertroue, kreatiwiteit en kommunikasievaardighede. Ons bied ’n wye verskeidenheid geleenthede waar leerders hul talente kan uitleef en hul stemme kan laat hoor.
Ons is trots op ons dinamiese kultuurgeleenthede wat leerders aanmoedig om hul stem, vaardighede en kreatiwiteit met die wêreld te deel.
Redenaars:
Ons redenaars blink jaarliks uit en ons leerders kompeteer op die ATKV-Redenaars-platform, asook by die jaarlikse RACA-kunswedstryd. Hierdie platforms ontwikkel leerders se vermoë om logies te dink, standpunte te formuleer en met oortuiging te kommunikeer. By Protearif glo ons daarin om ons leerders ‘n stem te gee.
Koor en Musiek:
Laerskool Protearif se junior – en seniorkoor bied aan leerders die geleentheid om hul liefde vir sang en musiek te deel. Ons koor tree op tydens skoolgeleenthede, kultuurfeeste en kompetisies en is bekend vir hul harmonie en entoesiasme. Onder leiding van toegewyde en entoesiastiese afrigters, is ons koor ‘n veilige spasie wat aan die leerders die geleentheid gee om hulself te wees en drome na te jaag.
Spreekkoor:
Laerskool Protearif se onderskeie spreekkore binne die verskillende fases, is 'n dinamiese span wat ritme, samewerking en emosionele uitdrukking kombineer om kragtige boodskappe oor te dra. Hierdie aktiwiteit bevorder ’n sterk gevoel van eenheid en kreatiwiteit.
Toneel en Drama:
Toneel is ’n gewilde kultuuraktiwiteit waarin leerders karakterontwikkeling, improvisasie en verhoogvaardighede aanleer. Jaarlikse produksies, revues en deelname aan kunstefeeste skep ruimte vir kreatiewe selfontplooiing. Deelname aan die ATKV-Tjokkertoneel en Pronkfees is ‘n jaarlikse hoogtepunt.
Kunswedstryde:
Ons neem gereeld deel aan Eisteddfods en kunswedstryde, waar leerders die geleentheid kry om hul vaardighede te meet teen dié van ander skole. Hierdie deelname dra by tot ’n gevoel van prestasie en skooltrots.
Kreatiewe Skryfwerk en Poësie:
Leerders wat ’n liefde vir woorde het, kry die kans om stories, gedigte en opstelle in te stuur vir interne en eksterne kompetisies. Kreatiewe skryfwerk moedig oorspronklike denke en selfuitdrukking aan.
"Spelling Bee":
Ons neem trots deel aan ons eie interne, sowel as die distrik se "Spelling Bee"-kompetisies, waar leerders hul taal- en spelvaardighede slyp in ’n prettige, maar uitdagende omgewing. Dit bevorder konsentrasie, geheue en woordeskatontwikkeling.
"Public Speaking" (Individueel):
Openbare spreekgeleenthede bied aan leerders ’n platform om hul idees duidelik, gesofistikeerd en met selfvertroue uit te druk. Ons leerders neem gereeld deel aan kompetisies waar hul redenaarsvernuf en oorspronklike denke getoets word.
"Group Public Speaking" (Groepsredenaars):
In groepsredenaars leer leerders die waarde van spanwerk en hoe om ’n gesamentlike boodskap met impak oor te dra. Hierdie vorm van openbare optrede is uiters gewild en vestig belangrike kommunikasie- en samewerkingsvaardighede.
Kultuurgeleenthede en Kompetisies:
Benewens hierdie aktiwiteite neem ons leerders ook deel aan kultuurfeeste, Eisteddfods en ander interskole-geleenthede. Hier kry hulle die kans om hul vaardighede te slyp, hul talente te vier en trots hul skool te verteenwoordig.




